Dr. Koos van der Merwe, predikant, bekroonde liedskrywer en digter, was 12 jaar rubriekskrywer vir SARIE tydskrif en behartig tans die agterblad rubriek vir Finesse tydskrif.

Wie is Koos van der Merwe?
Koos van der Merwe is gebore in Pretoria en het gematrikuleer aan die Hoërskool Edenvale. Hy behaal sy teologiese kwalifikasie aan die Aucklandpark Teologiese Seminarium (cum laude), 'n Honneursgraad in Teologie aan Die Randse Afrikaanse Universitiet (cum laude), 'n Meestersgraad in Teologie by RAU (cum laude), en ook sy Doktorsgraad by RAU in die Sielkundige Opvoedkunde. Sy meestersgraadverhandeling het die probleem van 'n simplistiese benadering tot die krisis van menslike lyding ondersoek met besondere verwysing na die werke van C.S. Lewis. Sy proefskrif het die sosiologiese probleem van massafikasie – die negatiewe uitwerking van die groep teenoor die individu – onder die loep geneem.
Koos is tans die leierleraar van Eden Gemeente, 'n onafhanklike gemeenskapskerk in George. Hy is 'n digter met vier gepubliseerde digbundels: Optelwoorde, Pelgrimverse, Rympies in die vliet (in die vorm van 'n joernaal) en sy nuutste Nagverse, geïllustreer deur sy dogter Claudi van der Merwe.
Leonard Cohen en Bob Dylan vertalings
Koos het gedurende 2012 begin werk aan die vertaling van Cohen se grootste treffers en Cohen se persoonlike goedkeuring op die vertalings gekry. Saam met Matthys Maree wat die Afri-Frans, -Spaans, -Talia en Afrikaans op Reis albums word Leonard Cohen in Afrikaans opgeneem en bereik binne die eerste jaar GOUD STATUS.
Treffers soos "Dance me to the end of love", "Suzanne", "Hallelujah" en "Famous blue raincoat" word nou verewig in Afrikaans gesing met Koos se ongelooflike skryfvernuf en digterlike aanslag. Die CD bevat 13 snitte in totaal en elkeen gaan om met 'n tema waaroor jy moet peins, of huil, of swyg. Party laat jou toe om te glimlag. En dalk, as jy toelaat dat jy deur die diep melankolies meegesleur word, sal jy lus voel om stadig te begin dans.
Maar Koos se vertaalvernuf eindig nie daar nie! In 2015 word Tamboerynman uitgereik. Koos sing Bob Dylan, in Afrikaans, weer in samewerking met Matthys Maree.
Prophet
As sanger, liedjieskrywer en meer as 30 jaar lid van die groep Prophet, saam met Theo Geyser, het hy reeds sewe ATKV Liertoekennings ontvang en is benoem vir die South African Music Awards. Een van die gewildste liedjies uit Koos se pen is die lied “Houtkruis” al deur tientalle kunstenaars in die Afrikaanse Christen musiekbedryf opgeneem.
Skrywer
Koos het vir jare die rubriek "Sielsdinge" in die tydskrif Sarie behartig en was sedert Januarie 2010 verantwoordelik vir die agterbladrubriek "Laaste Sê" in dieselfde tydskrif. In Junie 2017 groet hy Sarie na 12 jaar, om die agterbladrubriek van die vrouetydskrif Finesse te begin skryf. Hy is ook die skrywer van die gewilde boek "The Town Called Potential" wat ook in Afrikaans beskikbaar is.
Sy bundel kinderverhale, "Oom Koos se Slaaptydstories", "Antonius se Wonderlike Vreemde Vis" en "Ander Fantastiese Verhale"' het ook in 2013 verskyn en is tans in herdruk. Dit bied 'n verskeidenheid avonture met spesifieke geestelike boodskappe vir jong lesers van tussen 5 – 10 jaar oud.
Solo CD’s
Koos se eerste solo-album, Ter wille van die Opdaag was die produk van baie jare se omgaan met tema’s van die hart en geloof. Dit word deur kritici, selfs 'n felle kritikus soos Koos Kombuis, baie hoog aangeslaan en bied 'n buitengewone luister-en nadinkbelewenis.
‘n Opvolg van Ter wille van die Opdaag is Vlugplek – drie dekades... Musiek vir eenkantkom. In 2017 word sy nuutste album, Droom Martha Droom, vrysgestel. Die musikale regisseur van die album is weereens Matthys Maree. Koos bring sy kenmerkende, effe melancholiese dog vleimskerp humoristiese blik op die lewe en die liefde. Martha wag vergeefs op 'n Karooplaas dat 'n skarminkel, wat kom flankeer het, terug sal kom om sy beloftes te hou. 'n Ander gebroke hart verlang na Katrien wat hom gelos het. Cohen se onvergelykbare “Take This Waltz” (in Afrikaans) en twee van Jaques Brel se heel grootste skeppings vorm deel van hierdie uiters keurige en diepsinnige repertoire.
Toerleier na Israel en ander Bybellande
Koos het 'n passie vir woorde en as gewilde toerleier na die Bybellande maak hy die Woord en Christen wees, deur sy gedigte en liedjies, vir mede toerlede op 'n unieke wyse toeganklik. Hy het reeds 10 toere na die Bybellande begelei.